Trinchado. Soos in Portugal voorberei.

Hierdie Portugese gereg is maklik om te maak, en is ‘n heerlike kuier-ete.  Sit vir elke gas sy trinchado in ‘n mooi bakkie voor, ‘n heerlike brood in die middel van die tafel, en ‘n bottel rooiwyn neffens die brood, en kort voor lank is daar die klank van vingers wat afgelek word!

Neem ‘n kilogram beesvleis blokkies en marineer dit oornag in die sap van ‘n suurlemoen, en ‘n halfkoppie Worcestersous.  Gebruik ‘n plat glas- of tupperware bak sodat feitlik al die vleis in aanraking met die marinade is.

Spoel die vleis af voor dit gaargemaak word.  Gooi sommer in ‘n vergites sodat die water kan afloop.

Verhit ewe hoeveelhede botter en olie in ‘n pan, en braai die blokkies vleis vir ‘n paar minute om bruin te raak aan die buitekant, en die sappe in te seel.  Moenie alles gelyktydig doen nie, verdeel die vleis in 4 dele en braai dit bietjie vir bietjie.  Die olie en botter moet warm wees, sodat jy nie ‘n kokery aan die gang sit nie.  Tussendeur kan jy weer botter en olie insit voor jy die braaiwerk voortsit.

Gooi die vleisblokkies in ‘n bak, en wanneer al die vleis verbruin is, braai 2 groot uie, opgesny, asook 3-4 klein rooi chillies (met sade, ja!) tot lekker sag in nog botter en olie.  Gooi nou 7 knoffelhuisies, baie fyngekap by, en pasop dat die knoffel nie brand nie – dan raak dit bitter!  Roer deur vir so ‘n minuut.

Gooi 3 dessertlepels meel by die uie, chillies en knoffel, en roer goed.  Gooi een van die volgende by:  250ml rooiwyn, of 175ml brandewyn, saam met 250ml beesvleis aftreksel, saam met 3 Bayleaves.  Roer totdat die sous verdik, en kook vir 20 minute. 

Die meel is ‘n verdikkingsmiddel en sorg dat al die geure lekker vassit aan mekaar en aan die ryk sous.

Proe die sous – die brandewyn opsie behoort die regte balans te he, maar as die rooiwyn sous te suur is, voeg ‘n teelepel suiker in.

Gooi die beesvleis blokkies en die sous wat onder in die bak is, by die geurige sous, en kook vir 20-30minute.  Geur met sout en swartpeper, proe dit voor dit tafel toe gaan, maar moenie jouself vol proe nie!

Onthou, die eerste kook van die sous, sorg dat die geure lekker trou met mekaar, en ‘n ryk sous vorm.  Die kook met die vleis, is om laasgenoemde gaar, sag en vol sous te pomp.

Skep in individuele bakkies uit, en bedien soos voorgestel aan die begin van die skrywe, of met ‘n vars groenslaai.

One response to “Trinchado. Soos in Portugal voorberei.

  1. Ek het vandag Trinchado by La Romantica naby die Somerset Mall gehad.

    Yuk! Die sous is van blatjang gemaak, en kokende blatjang sux. Pasop om dit in ‘n restaurant te bestel! Maak jou eie, dis net beter.

    En bedien met ‘n stewige tekstuur brood, sodat dit heel bly, ten spyte daarvan dat dit volgesuig is van die sous.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s