Waterblommetjies

Elke Oktobermaand het ons op oupa se plaas waterblommetjies gaan pluk.  Demitse koue water, maar almal is in vir die pret.  Tussen drywende beesmis en koesende paddas het ons dan die oes versamel – diegene wat nie weet van plaasdam en riviere swem nie, sal nou gril.  Ek dink met ‘n pyn in die hart terug aan daardie veilige, lekker dae.

Vandag se waterblommetjies lyk of dit uit steriele damme kom, want jy het nie regtig nodig om dit in soutwater te laat le, of goggatjies te verwyder nie.  Pasop tog as jy waterblomme teen die pad koop – baie is net stingels en wit blom wat tot niks wegkook.  ‘n Behoorlike waterblom het ‘vleis’ aan – die blomgedeelte sit vetsaad en vrolik, met groot groen blare om hulle te beskerm.

Sny die stingels af, en enige bruin blare om die ‘vleis’.

My ouma het net een manier gehad van waterblomme kook, en dit is oorgedra na my ma, en wie is ek om te stry!  ‘n Waterblommetjie bredie moet laaaank op die stoof staan.  As jy ‘n Welcom Dover het, is dit net beter.

Gebruik goeie vleis as jy hierdie bredie kook – dit is spesiaal genoeg om nie hier met afval beentjies en weggooi vleisies te sukkel nie. 

Braai ‘n ui, opgesny, in olie.  Voeg die vleis by, en verbruin.  Gooi die waterblomme in die pot, sorg dat daar ‘n bietjie water onder-in is, en sit die deksel op nadat jy sout ingegooi het.  Draai die hitte laag, en vergeet van hom vir so ‘n uur.  Loer darem net of die pot nie droogkook nie, maar dit behoort nie.  Hoeveelheid blomme?  Soveel jy wil – dit kan more weer opgewarm en geniet word.  Of gevries, maar opgewarm is beter.  Dit is mos ‘n bredie se geheim.  Gister se kos is more ekstra lekker.  Mits die yskas werk…

Skil ‘n groot aartappel, en sny in blokkies.  Hou dit in water sodat dit nie bruin word nie, en gooi na die eerste uur se kook by.

Waterblommetjie bredie MOENIE kirts onder jou tande nie.  Dit is ‘n bredie wat ‘n bredie genoem word, omdat dit lank moet kook!  Al dente is vir pastas en vars groente uit die tuin.  NIE waterblomme nie.

As jy dit roer, moet dit nie fyn karring nie – die blaartjies lyk tog te mooi as dit heel en sag gekook op die rys is.

Daar is nie resepte vir hoeveelhede nie.  Slegs as jy ‘n palet vir soet, suur, sout, warm en spicy het, sal jy die perfekte waterblom pot maak.  Daar moet egter suurlemoensap en suiker bykom.  Aan die einde van die kooktyd.  Daardie soet-suur balans moet perfek op die tong kom le, en jy weet die bredie is ‘n wenner.

Ek druk ‘n halwe klein lemmetjie of suurlemoen uit.  Roer versigtig deur, skep ‘n teelepel vol uit, blaas dit koud, en dan proe ek of dit ‘n feature in die gereg is.  Baie subtiel, bygese.  Dan ‘n teelepel suiker, en so bou ek aan die smaak.

Asseblief, moenie die dis ‘n onreg aandoen deur dit op gewone wit Tastic, of gegeurde rys soos jasmyn rys, voor te sit nie.  Slegs ‘n lekker basmatie rys is goed genoeg vir hierdie resep.

Jimmil, my mond water.  Ek sien die Spar het waterblomme ingekry, maar dit is witblom en stingels.  Iewers sal die perfekte blomme wel le en wag op ‘n rak… 

NS:  Die prent is ‘n tipiese witblom.  Die ‘kos’ vorm daar waar die donker spikkeltjies in die middel van die blom vertoon.

4 responses to “Waterblommetjies

  1. Yummy, Dit is absoluut heerlik.
    Dawie

  2. Jy ken van! Net soos ek dit onthou!

  3. En jy het my na ń ander wêreld weggevoer, dankie vir die mooi skrywe.

  4. Ek sukkel om hulle aan die hande te kry. Die gebliktes ook. Ek bly in JHB. Westrand. Soek al 6 maande na waterblommetjies.;(

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s